Welstandsprogram

Projekspan: Dr FJ Labuschagne (koördineerder) in samewerking met prof Y Dreyer, drr A Botha, RA Denton, J Nel, WA Strydom, JC van der Merwe, JM van Staden, di CJ Bezuidenhout, JP du Preez, KF Smith, FJ Redelinghuys, G Rocher, PJ Wolmarans en oudl AJP le Roux.

 

Die Welstandsprogram vorm na die herstruk-turering van sinodale werksaamhede deel van die diensveld van die SGB.  Welstand word as ’n toestand van voorspoed omskryf.  Die lewe stel soms uitdagings waarin ook die predikant en sy/haar gesin van hierdie voorspoed en vrede vervreem word.  Kerkrade en lidmate word opnuut opgeroep om moeite te doen met die emosionele versorging van predikante.

Die SGB het ten diepste die behoefte om na elke predikant uit te reik in tye van nood en ontwrigting.  Laasgenoemde ondersteuningsnetwerk wil ’n bydrae lewer tot die emosionele veerkragtigheid van predikante en op deurlopende basis ondersteuning bied.  Alle sake wat op die welstand van die predikant betrekking het, is streng vertroulik van aard.  Hulpverlening en ondersteuning geskied holisties en multidissiplinêr binne die groter raamwerk van die Welstandsprogram en sy vennote (Vista en ander dienste op ad hoc-basis).  Dit is belangrik dat al die rolspelers in hierdie saak hande sal vat ten einde ons predikante, emeriti, proponente en teologiestudente, en hul gesinne, te ondersteun.

Die versorging van predikante en hul gesinne is in die eerste plek die verantwoordelikheid van die plaaslike gemeente.  Daar is egter verskeie faktore wat kan veroorsaak dat predikante hulp benodig wat nie deur hul gemeentes hanteer kan word nie.  Dit sluit onder andere uitdagings in ten opsigte van geestelike, emosionele en materiële welstand.

Predikante aanvaar dat selfsorg en die sorg van hul eie gesin as model dien vir gemeentelede, en sal daarom toesien dat hul eie persoonlike welsyn, asook die welsyn van hul gesin, in stand gehou word.  Selfsorg is nie onderhandelbaar nie!  Ons werk op professionele wyse in ’n veilige spasie met predikante en hulle gesinne.

Begeleiding en ondersteuning vanuit die SGB geskied met die oog op die optimalisering van die roeping van die predikant.  Geestelike en emosionele volwassenheid word ontwikkel en met die oog op ’n gebalanseerde bediening uitgebou.  Predikante word ten sterkste aanbeveel om gereeld en veral post-kwarantyn te rus ten einde na vlees en gees roepingsgetrou en vervuld te wees.  Intensionele rus het ten doel om anders as gewone verlof geestelike rus voorop te stel.  Dit vra dat die predikant hom-/haarself ten opsigte hiervan bly oriënteer.

Die SGB maak van verskeie rusmomente gebruik om rus en herstel te verseker:

  • Retreat-sentra (Origens en Andrew Murray): Waar stilte, spasies en ’n kontemplatiewe ingesteldheid besoekers ondersteun om te rus.  Gedurende ’n retreat word kollegas met vaardighede toegerus wat hulle sal help om die spanning en alledaagse uitdagings beter te hanteer.
  • Pelgrimstog van Hoop (274 km vanaf Uniondale na Mosselbaai): Stap- en wandelroetes met die intensie om geestelike ritme en pas te handhaaf.
  • Sabbatsrus: Slaap en rus.
  • Vista-program: Welstand en welsyn het ook ’n helende en terapeutiese been waarby Vista-welsynskliniek en die ondersteuning deur ’n multidissiplinêre professionele span ingesluit is.  Hierdie diens word as effektief en uiters doelmatig beskou.
  • Leesprogram.
  • Geestelike of geloofsgewoontes.