Tydens verskeie gesprekke met gemeentepredikante en jeugwerkers, veral by die 2023-Jeugberaad, het die SGB se Jeugbedieningskomitee diep onder die indruk gekom van die innoverende jeugbedieningspraktyke in verskeie gemeentes. Dit is belangrik dat hierdie innovasies en hoopvolle stories met die Kerk gedeel word om mekaar te inspireer en te versterk in die belangrike taak van geloofsvorming. Daarom is ’n omsendskrywe met ’n vraelys in April 2024 uitgestuur om meer inligting oor gemeentes se jeugwerkpraktyke in te win.
’n Merkwaardige 91 voltooide vraelyste is terug ontvang, en die data is verwerk. ’n Opsomming van die hulpbronne wat deur byna ’n derde van ons gemeentes gebruik word is opgestel en aan die hele Kerk uitgestuur. Hierdie hulpbronne word aangewend om kategese- en jeugbediening te verryk, sodat die geloofsvorming van kinders en jongmense in gemeentes kan floreer. Die Jeugbedieningskomitee was van mening dat dit van hulp kon wees in gemeentes se soeke na aanvullende materiaal vir die 2025-kategesejaar.
Na verdere gesprek van die Jeugbedieningkomitee het die droom vorm aangeneem om al hierdie inligting op die kerk se webblad beskikbaar te stel. Sodoende dien die Kerk se webblad as ‘n eenstop-geloofsvorming-van-jeug-en-gesinne-hulpbronne. Volg gerus die skakel hier bo om hierdie inligting te gebruik.
Die SGB bied ook graag finansiële hulp aan vir die verkryging van enige van hierdie hulpbronne. Gemeentes wat belangstel, kan ds Rue Hopley (rue@pretoriaoos.com) kontak vir verdere reëlings in dié verband. Geloofsvorming bly een van die Kerk se grootste roepings, en ons wil gemeentes graag hierin op enige moontlike wyse ondersteun.
Gebruik asseblief hierdie hulpbronne na goeddenke. Elke hulpbron het ’n kort opsomming van die inhoud met skakels na die webblad, bestellingsblad of kontakpersoon. Daar is hulpbronne na kategesemateraal, kategete/ jeugwerker toerusting, ‘n voorbeeld van ‘n etiese kodes vir volwassenes wat met jeug werk, ouerleiding/gesinsbediening, alle inligting rondom die vereistes van die Kinderwet rondom volwassenes wat met jeug werk asook riglyne jy self ‘n behoeftebepaling in jou gemeentes te wil doen oor wat die jeug wil hê. Daar is ook ’n leeslys om denke oor jeug- en gesinsbediening te stimuleer. Die Jeugbedieningskomitee wil hierdie webtuiste verder uitbrei met nog meer relevante jeug- en gesinsbedieningmateriaal. Hou hierdie spasie dop…
Projekspan: Ds Rue Hopley (koördineerder) in samewerking met di JM Bevolo-Manders, JT Manders, S Oxton, oudle Faan Beeslaar, Danie Beeslaar, Christo Pieterse en Rudolf Koekemoer.
NCLS Kerkspieëlnavorsing toon dat gemeentes die bediening aan die jeug en jong volwassenes as hoë prioriteit beskou. Hoe kan die geestelike vorming van huisgesinne en jong volwassenes op ’n betekenisvolle wyse gebeur?
Die Kernkomitee het die volgende merkers vir ’n strategie uitgespel om die jeug en jong volwassenes weer aan die Kerk te bind:
- Gebruik die jeug en jong volwassenes se bydrae in die Kerk om die Kerk uit te bou en op te bou.
- Leer die jeug en jong volwassenes om in die storm God se stem te hoor en te onderskei: inspirasie vir die jongmens, onderskeidingsvermoë om grys gebiede raak te sien.
- Gebruik die jong volwassenes se energie in die Kerk om eenvoudig kerk te wees.
- Lei die jongmense op in dissipelskap en leierskap. Kategese kan via nuwe interaktiewe maniere aangebied word, waar kategesehandboeke in elektroniese formaat op ’n selfoon aan die kinders beskikbaar gestel word.
Die kerngroep is veral bekommerd oor die tendens wat gerapporteer is dat in sommige gemeentes, kinders na COVID in kleiner getalle eredienste en kategese bywoon. Kinders beweeg uit na kerke waar daar groter getalle kinders bymekaar kom en waar jeugprogramme aangebied word. Die wegval van die kerkjeugaksies het ’n leemte gelaat en onafhanklike kerke wat nou jeugverenigings/aksies bedryf, trek die kinders weg uit die Hervormde Kerk en ander susterskerke. Lidmate en gemeentes moet weer opgewonde gemaak word oor die Kerk se jeugbediening.
Die Kernkomitee is, by die skryf van die verslag, besig om tiener-leiersopleiding te reël vir 2022. Dit sal plaasvind oor twee naweke, een kort voor en een kort na die 73ste AKV. Kom ons gebruik ons kinders aktief in die gemeentes. In die Hervormde Kerk geskied geestelike vorming van huisgesinne deur gesinsbediening. Hoe kan elke gesin midde-in hierdie grootskaalse ontwrigting met oorgawe aan die geestelike vorming van ons kinders deelneem? Kategese en jeugbediening maak ’n belangrike deel uit van die begeleiding van die jeug op die weg van dissipelskap, en rus die jeug toe vir hul dienswerk in die Kerk en hul getuienistaak in die wêreld. Ons Huisgeloof Skatkaart by https://nhka.org/kursusse/ is ’n produk wat gesinne help om geloofsgesprekke en -handelinge te aktiveer. Die Huisgeloof Skatkaartsleutel maak ’n unieke geloofsreis in elke kuiervertrek moontlik. Wees kreatief en betrek die hele huisgesin op elke plek en in elke spasie waar saamwees in die teenwoordigheid van God kosbare ervarings van hoop en behoort ontsluit.
